Grondwet

Die eerste bladsy van die Verenigde State van Amerika se grondwet uit 1787

'n Grondwet of konstitusie is 'n wet wat onder alle omstandighede geldend is of waarop ander wette gegrond is. In terme van regerings is dit die wet wat in hooftrekke die regeringsvorm (monargie of republiek) van die staat, die hooffunksies van staatsorgane, die amptelike taal/tale, die verpligtinge en regte van die burgers bepaal.

’n Grondwet is ’n versameling van fundamentele beginsels of vasgestelde reëls wat die regsbasis van 'n staat, organisasie of enige ander soort entiteit vorm en bepaal hoe daardie entiteit bestuur word.

Wanneer hierdie beginsels in 'n enkele dokument of 'n stel regsdokumente opgeteken word, kan daardie dokumente 'n geskrewe grondwet beliggaam; as dit in 'n enkele omvattende dokument weergegee word, beliggaam dit 'n gekodifiseerde grondwet. Sommige grondwette, soos die grondwet van die Verenigde Koninkryk, is nie gekodifiseer nie maar in verskeie fundamentele wette van 'n parlement, hofsake of verdrae opgeteken.

'n Grondwet is van toepassing op verskillende vlakke van organisasies, van soewereine lande tot maatskappye en verenigings. 'n Verdrag wat 'n internasionale organisasie stig, is oor daardie organisasie se grondwet, aangesien dit definieer hoe daardie organisasie saamgestel is. Binne state definieer 'n grondwet die beginsels waarop die staat gegrond is, die prosedures waarvolgens wette gemaak word en deur wie. Party grondwette, veral gekodifiseerde grondwette, dien ook as beperkers van staatsmag deur grense wat 'n staat se regeerders nie mag oorskry nie, daar te stel, soos fundamentele regte.

Indië se grondwet is die langste geskrewe grondwet ter wêreld, met 444 artikels in 22 dele, 12 skedules en 118 wysigings, met 146 385 woorde in sy Engelse weergawe. Monaco se grondwet is die kortste ter wêreld, bestaande uit 10 hoofstukke met 97 artikels en 'n totaal van 3 814 woorde.