Polisie

Die SAPD Gedenkteken by die Uniegebou in Pretoria met die woorde "Servamus et Servimus" (letterlik: 'ons beskerm en ons dien').[1]

Die polisie is 'n groep mense wat getaak is om wet en orde te handhaaf, misdaad te bekamp, die publiek te beskerm en tydens noodgevalle te help. Mense wat vir die polisie werk word polisiebeamptes of -offisiere genoem. Hulle is by 'n polisiestasie gestasioneer en rapporteer aan die stasiebevelvoerder.

Die polisie is deel van die uitvoerende mag van die staat wat vir openbare orde en binnelandse veiligheid verantwoordelik is. Die weermag, daarteenoor, beskerm 'n land teen gevare van buite. Sonder 'n polisiediens sal die staat in wanorde en wetteloosheid verval en anargie heers. As deel van die staatsdiens word hulle met belastinggeld besoldig.

  1. Die infinitief ("om te beskerm") vir servamus sou servare wees, en vir servimus sou dit servire ("om te dien") wees. Servamus het 'n ruim betekenis en kan letterlik "ons (be)waak/beskerm/behoed/red" beteken, afhangend van die konteks. Servimus beteken bloot "ons dien". Vergelyk die Engels "to serve and protect" (albei werkwoorde in die infinitief) en die Nederlandse Kuswagleuse: Servamus servientes, d.i. "Ons waak in diensbaarheid")