Rome

Rome (Latyn en Italiaans: Roma, [ˈroːma], ) is die hoofstad van Italië en die Italiaanse streek Latium (Italiaans: Lazio). Rome is in westelike Sentraal-Italië aan die Tiberrivier en naby die Tirreense See geleë. Met 'n oppervlakte van 1 285 km² en 'n bevolking van sowat drie miljoen binne die stadsgrense en vier miljoen in die agglomerasie is Rome die grootste stedelike nedersetting in Italië. Die enklawe van die Vatikaanstad is in die noordweste van die stadsgebied geleë. Rome se huidige stadsbeeld is oor 'n tydperk van sowat 3 000 jaar gevorm, met antieke Romeinse ruïnes soos die Colosseum en Forum Romanum, asook enkele geboue wat bewaar gebly het soos die Panteon, as stomme getuies van die stad se goue tydperk as caput mundi, die hoofstad van die wêreld, en administratiewe sentrum van die magtigste ryk wat ooit in Europa ontstaan het. 'n Ryk argitektoniese erfenis is aan Rome se latere funksie as setel van die Rooms-Katolieke Kerk te danke. Antieke en sakrale boukuns word aangevul deur 'n groot verskeidenheid wêreldlike geboue uit latere styltydperke soos Renaissance en barok, waaronder kunsvolle piazza's (openbare pleine) en fonteine. Die historiese sentrum (centro storico) is in 1980 deur Unesco as wêrelderfenisgebied gelys. Die Romeinse digter Albius Tibullius (55 v.C. − 18/19 v.C.) het in die 1ste eeu v.C. vir die eerste keer na Rome as die "Ewige stad" verwys. Hierdie beskrywing word vanweë die stad se lang geskiedenis en sy belangrikheid as hoofstad van 'n wêreldryk en latere middelpunt van die Christendom steeds as by- en erenaam vir Rome gebruik. Rome het in sy lang geskiedenis as hoostad van die Romeinse Koninkryk, die Romeinse Republiek en die Romeinse Keiserryk gedien. Sedert die 1ste eeu n.C. was die stad die setel van die pous en tussen die 8ste en 10de eeu die administratiewe sentrum van die Pouslike State. In 1871 het dit die hoofstad van die nuut verenigde Italiaanse eenheidstaat en in 1936 die administratiewe setel van Benito Mussolini se kortstondige Italiaanse Ryk geword. Rome het sodoende steeds die funksie van 'n godsdienstige en politieke spilpunt vervul. Dit huisves vandag die groot gesentraliseerde Italiaanse staatsadministrasie – en 'n rekordgetal ambassades danksy die Vatikaanstad se status as selfstandige politieke entiteit. Vir die grootste deel van sy geskiedenis het Rome sy groot bevolking aan sy status as politieke hoofstad te danke gehad. Met 'n bevolking, wat deur historici en argeoloë vanaf die einde van die Romeinse Republiek tot in die Hoë Keisertyd, op meer as 'n miljoen beraam word (enkele historici en argeoloë het 'n bevolkingsgetal van 1,6 miljoen bereken), was dit een van die grootste voorindustriële stedelike nedersettings op aarde – 'n status wat ondenkbaar sou gewees het sonder die oorvloed graan- en ander landbouinvoere asook die rykdomme wat die stad uit ander ryksdele binnegestroom het. As mens in gedagte hou dat die antieke Romeinse stadsgebied net 'n gedeelte van die oppervlakte van Parys binne sy historiese stadsgrense beslaan het en sowat die helfte daarvan deur openbare geboue en ander nie-bewoonde strukture of ruimtes ingeneem is, was antieke Rome 'n stad met 'n buitengewoon hoë bevolkingsdigtheid. Met keiser Konstantyn die Grote se uitbou van Konstantinopel as nuwe keiserlike setel en Rykshoofstad vanaf 330 n.C., asook die krisis en ontbinding van die Ryk in die 5de eeu was vir Rome 'n politieke en ekonomiese afskaling verbonde wat sy bevolking gaandeweg van 'n geskatte 1,6 miljoen tot 50 000 laat daal het. Die laaste groot bouprojekte is in die 4de eeu voltooi. In sy laat fase is herstelwerk en onderhoud van bestaande infrastruktuur gestaak of tot 'n minimum beperk. Nogtans het Rome geen spookstad geword soos ander antieke Romeinse nedersettings nie. Danksy die primaat van die biskop het Rome as setel van die Rooms-Katolieke Kerk gedurende die Middeleeue 'n nuwe geestelike en politieke status bereik. So was dit 'n belangrike bestemming vir pelgrims. Vanaf die Renaissance-tydperk het die Kerk met 'n ambisieuse bouprogram begin wat sy hoogtepunt in die tyd van die Teenreformasie bereik het. Die Katolieke Kerk, wat aanspraak daarop gemaak het om die alleen-saligmakende instelling te wees, het moeite gedoen om dié status met argitektoniese glans en glorie te bevestig. Rome word tans weer onder die wêreld se globale stede gereken en is danksy sy kunsskatte die mees besoekte stad in Italië asook die derde gewildste stedelike toeristebestemming in die Europese Unie. Naas die Italiaanse regering en parlement, die regerings van die administratiewe streek Lazio en die Metropolitane Stad Roma Capitale asook 'n groot verskeidenheid nasionale instellings, het 'n aantal spesiale agentskappe van die Verenigde Nasies hul setel in Rome, soos die FAO (Voedsel- en Landbou-organisasie), die WFP (Wêreldvoedselprogram) en die IFAD (Internasionale Fonds vir Landbou-ontwikkeling). Belangrike internasionale ondernemings het hulle hoofkwartiere in die Italiaanse hoofstad, waaronder Eni, Enel, TIM en Leonardo S.p.A. asook banke soos Unicredit en BNL. Rome se mode-, ontwerp- en rolprentbedrywe is internasionale rolspelers van formaat. In Rome se Cinecittà-filmateljees is 'n verskeidenheid rolprente vervaardig wat met Oscars bekroon is.