Sachalin

Sachalin
Сахалин
樺太島
Kaart van Sachalin-eiland
Kaart van Sachalin-eiland
Geografie

Ligging Rusland, Stille Oseaan
Koördinate 51°N 143°O / 51°N 143°O / 51; 143Koördinate: 51°N 143°O / 51°N 143°O / 51; 143
Argipel Sachalin

Oppervlakte 72 492 vk km
Hoogste punt Lopatin 1 609 m
Administrasie
Vlag van Rusland Rusland
Oblast Sachalin

Hoofstad Joezjno-Sachalinsk
Grootste stad Joezjno-Sachalinsk (174 203)

Demografie
Bevolking 497 973

Bevolkingsgroepe Russe, Koreane, Ainoe

Sachalin (Russies: Сахали́н, [səxɐˈlʲin]; Japannees: 樺太島, Karafuto-tō) is ’n groot eiland in die noordelike Stille Oseaan. Hoewel dit die noordelikste eiland van die Japannese Argipel is, behoort dit tot Rusland. Dit is Rusland se grootste eiland en vorm saam met die Koerile die federale deelgebied Sachalin-oblast.[1] Die eiland skei die See van Japan in die suidweste van die See van Ochotsk in die noordooste. Sachalin is naby Chabarofsk-krai aan die ooskus van Rusland en net noord van die Japannese eiland Hokkaido geleë. Dit is omtrent ’n vyfde van Japan se grootte.

Die Aniwa-vuurtoring aan die suidpunt van Sachalin-eiland.
Die ligging van Sachalin-eiland in Rusland.

Dit het ’n oppervlakte van 72 492 km² en 'n bevolking van rofweg 500 000, van wie die meeste Russe is. Die grootste stad is die hoofstad van die oblast, Joezjno-Sachalinsk. Die inheemse volke is die Ainoe, Oroks en Nifchers, van wie daar net klein getalle voorkom.[2] Die eiland se naam kom van die Mantsjoe-woord Saghalien.

Sachalin was eens deel van China tydens die Qing-dinastie, hoewel die Chinese beheer soms laks was.[3][4] Rusland én Japan het later, in die loop van die 19de en 20ste eeu, beheer oor die eiland opgeëis. Hierdie dispute het soms gelei tot militêre konflikte en die verdeling van die eiland tussen die twee magte. In 1875 het Japan afstand gedoen van sy aanspraak op die eiland in ruil vir die noordelike Koerile. In 1905, ná die Russies-Japannese Oorlog, is die eiland verdeel, met die suide wat na Japan gegaan het. Rusland het in 1945, aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog, beslag op die hele eiland sowel as op al die Koerile-eilande gelê. Japan maak nie meer op enige deel van Sachalin aanspraak nie, maar wel op die suidelike Koerile. Die meeste Ainoe op Sachalin het na Hokkaido, sowat 43 km oos daarvan, verhuis nadat die Japannese in 1949 van die eiland afgesit is.[5]

  1. "Sakhalin Island" (in Engels). Encyclopædia Britannica. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 4 April 2020. Besoek op 14 Augustus 2017.
  2. "The Sakhalin Regional Museum: The Indigenous Peoples". Sakh.com. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 17 Maart 2009. Besoek op 16 Junie 2010.
  3. Gan, Chunsong (2019). A Concise Reader of Chinese Culture. p. 24. ISBN 9789811388675.
  4. Westad, Odd (2012). Restless Empire: China and the World Since 1750. p. 11. ISBN 9780465029365.
  5. Reid, Anna (2003). The Shaman's Coat: A Native History of Siberia. New York: Walker & Company. pp. 148–150. ISBN 0-8027-1399-8.