Biodiversiteit

Reënwoude is van die mees biodiverse ekostelsels op aarde.

Biodiversiteit of biologiese diversiteit is die verskeidenheid van lewensvorme op aarde en die hele spektrum van gene, spesies, ekostelsels en landskappe is daarby inbegrepe. Dit sluit 'n ongelooflike aantal soorte plante, diere en organismes in. Biodiversiteit is egter ook veel meer as dit. Dit omvat ook genetiese wisselwerking tussen spesies, verskeidenheid van spesies en lewensvorme, diversiteit van verwante spesies en interaksie tussen hulle, en ekologiese prosesse. Biodiversiteit is die natuur se manier om onder andere 'n ontsaglike genepoel daar te stel wat kan help om versteurings in ekostelsels te verwerk en te bowe te kom. Dit speel 'n onmisbare rol in die vorming, beskerming en instandhouding van grond, die regulering van die klimaat, asook die instandhouding van ekologiese prosesse en lewensonderhoudende stelsels. Die aarde se suurstof-, voedsel- en watervoorraad, benewens gunstige klimaat, bestuiwing, vrugbaarheid van grond en hersirkulering van afvalprodukte word aldus deur biodiversiteit onderskraag.[1] Dit is danksy biodiversiteit dat voedsel, klerasie, medisyne, skuiling en behuising verkry kan word, en dit is biodiversiteit wat die hoeksteen van toerismebedrywe vorm.

  1. Dugmore, Heather (7 April 2021). "Calling all creatives: Biodiversity needs a global advertising campaign". Environment. mg.co.za. Mail & Guardian. Besoek op 9 April 2021.