Elektromagnetisme

Elektromagnetisme is ’n tak van fisika wat die bestudering van die elektromagnetiese wisselwerking tussen elektries gelaaide deeltjies behels. Die elektromagnetiese wisselwerking toon elektromagnetiese velde, soos elektriese en magneetvelde, en lig, en is een van die vier basiese natuurkragte. Die ander drie is die sterk wisselwerking, die swak wisselwerking en swaartekrag.[1]

Weerlig is ’n elektriese ontlading wat tussen twee gelaaide streke beweeg.

By hoë energie word die elektromagnetiese en die swak wisselwerking verenig as ’n enkele krag, die elektroswak wisselwerking.

Elektromagnetiese verskynsels word gedefinieer in terme van die elektromagnetiese krag, wat soms die Lorentzkrag genoem word. Dit sluit beide elektrisiteit en magnetisme in as verskillende manifastasies van dieselfde verskynsel. Die elektromagnetiese krag speel ’n groot rol in die bepaling van die interne eienskappe van die meeste voorwerpe in die alledaagse lewe. Gewone materie se vorm kom van die intermolekulêre kragte tussen individuele atome en molekules in materie, en is ’n manifestasie van die elektromagnetiese krag. Elektrone word deur die elektromagnetiese krag gebind aan atoomkerns, en hul wentelvorms en hul invloed op nabygeleë atome met hul elektrone word beskryf deur kwantummeganika. Die elektromagnetiese krag beheer alle chemiese prosesse, wat meegebring word deur wisselwerkings tussen die elektrone van naburige atome.

In elektromeganiese energie-oordrag, transmissiestelsels wat teen RF-radiofrekwensies funksioneer, golfleiers wat teen mikrogolf- of optiese frekwensies funksioneer en die ontwerp van antennas is ’n deeglike kennis van die gedrag van elektriese en magnetiese velde noodsaaklik. Stroombaanteorie beskryf die verband tussen spanning en stroom en is grotendeels gebaseer op Ohm se wet. Terwyl dit dikwels voldoende is in elektriese ontwerptoepassings, word hierdie wette omvergewerp wanneer daar teen hoë frekwensies gewerk word. Om hier agter die kap van die byl te kom, moet elektromagnetiese veldteorie verstaan word. Ohm se wet is as't ware ’n spesiale geval in veldteorie.

  1. Ravaioli, Fawwaz T. Ulaby, Eric Michielssen, Umberto (2010). Fundamentals of applied electromagnetics (6th uitg.). Boston: Prentice Hall. p. 13. ISBN 978-0-13-213931-1.{{cite book}}: AS1-onderhoud: meer as een naam (link)