Joodse kalender

'n Figuur wat op 'n Middeleeuse Hebreeuse kalender verskyn en die Jode herinner om die "vier soorte", d.w.s. etrogh (אֶתְרוֹג; 'n soort sitrusvrug), loelaw (לולב; 'n palmtak), hadasim (הדסים; drie mirttakke) en arawot (ערבות; twee wilgertakke), gedurende die maand Tisjrie te koop en tydens Soekkot na die sinagoge saam te neem
'n Mosaïek van die diereriem in die 6de eeuse sinagoge by Beit Alpha, Israel
'n Joodse kalender vir die jaar 5591 (1831)
'n Joodse kalender wat Adar II tussen 1927 en 1948 toon

Die Joodse kalender (Hebreeus: הלוח העברי, ha-loeag ha-iwri), ook Joodse jaartelling of Hebreeuse kalender genoem, is 'n maansonkalender, oftewel lunisolêre kalender, wat deur Jode gebruik word en begin met die jaar waarin glo – volgens die Bybelse berekening – die skepping van die wêreld (of die Anno Mundi) plaasgevind het. Volgens die Tanag het die skepping van die wêreld deur God in die jaar 3761 v.C. (Gregoriaanse kalender) in die maand Tisjrie (herfs) plaasgevind.[1][2] Gevolglik begin die nuwe jaar op Roosj Hasjana (hoof van die jaar), 'n belangrike tweedaagse periode van gebed en inkeer, wat in September of Oktober volgens die Gregoriaanse kalender plaasvind. Die Joodse jaar begin egter in die maand Nisan (lente), dié maand van verlossing, toe die Volk van Israel uit Egipte vertrek het. Tot vandag toe word die verlossing hoër geag as die skepping, dus word vir godsdienstige gebruik Nisan as die eerste maand in die Joodse kalender beskou, terwyl Tisjrie as sewende maand beskou word.

Die Joodse kalender beskik altesaam oor vier nuwejaarfeeste, waarvan Roosj Hasjana die vernaamste is. Die drie ander nuwejaarfeeste is Toe Bisjwat ("nuwejaar van bome"), Roosj Hasjana Labehemá ("nuwejaar van plaasdiere") en 1 Nisan vir die telling van die maande en bepaling van die groot feeste asook vir die berekening van die jare van 'n Joodse koning se regering. Die einde van die jaarlikse leessiklus van die Tora en die begin van 'n nuwe leessiklus in die sinagoge word op Simgat Tora gevier.

Die begin van maande in die Joodse kalender word altyd na die maan bereken. 'n Maanmaand duur 29,5 dae, 12 ure, 44 minute, en ongeveer 3 sekondes (29,5305941 dae) – dus het die Joodse maande afwisselend 29 of 30 dae. Aangesien daar 12 Joodse maande is, het 'n gewone Joodse jaar 354 dae, sowat 11 dae minder as die sonjaar. Hierdie probleem word opgelos deur – binne 'n wederkerende periode van 19 jaar – sewe keer 'n skrikkelmaand by te voeg, in die 3de, 6de, 8ste, 11de, 14de, 17de en 19de jaar. Hierdie skrikkelmaande het as 'n reël 30 dae waardeur die kalender na 19 jaar weer in pas met die sonkalender sal wees. Die naam van die skrikkelmaand is Adar alef (Adar 1), oftewel eerste Adar, en dit gaan die gewone maand Adar vooraf. Dié word in 'n skrikkeljaar Adar bet (Adar 2), oftewel tweede Adar, genoem. As gevolg van dié aanpassing is die Joodse kalender 'n maan- en sonkalender, terwyl die Christelike kalender 'n suiwer sonkalender en die Islamitiese kalender 'n suiwer maankalender is. Die maandname is van Galdeeuse oorsprong en dateer uit die tydperk van die Babiloniese ballingskap.

  1. (en) Shneer, James (2013). The Jewish Calendar and the Torah – 2nd Edition. Lulu Com. p. 6. ISBN 1-304-68165-3. Besoek op 13 Desember 2022.
  2. (en) Kahn, Charles (2005). World History: Societies of the Past (2nd edition). Winnipeg: Portage & Main Press. p. 5. ISBN 1-55379-045-6. Besoek op 13 Desember 2022.