Maan

Hierdie bladsy verwys na die Aarde se Maan. Vir ander mane in die Sonnestelsel, sien natuurlike satelliet.
Maan   ☾
Die Maan.
Die Maan, soos gesien vanaf die Aarde op 7 Oktober 2006.
Wentelbaaneienskappe
Halwe lengteas 384 399 km
0,00257 AE[1]
Wentelperiode 27 dae, 7 uur, 43,7 min[1]
Gem. omwentelingspoed 1,022 km/s
Baanhelling 5,145° (tot die ekliptika)
tussen 18.29° en 28.58° (tot die Aarde se ewenaar)[1]
Satelliet van Die Aarde
Fisiese eienskappe
Gem. radius 1 737,103 km
(0,273 Aardes)[1][2]
Radius by ewenaar 1 738,14 km
(0,273 Aardes)[2]
Radius na pole 1 735,97 km
(0,273 Aardes)[2]
Oppervlakte 3,793×107 km²
(ongeveer 38 miljoen km²)
(0,074 Aardes)
Volume 2,1958×1010 km³
(0,020 Aardes)
Massa 7,3477×1022 kg
(0,0123 Aardes)[1]
Gem. digtheid 3 346,4 kg/m³[1]
Oppervlak-
aantrekkingskrag
1,622 m/s²
(0,1654 g)
Ontsnapping-
snelheid
2,38 km/s
Sideriese
rotasieperiode
27,321 582 dae
Rotasiespoed
by ewenaar
4,627 m/s
(by die ewenaar)
Ashelling 1,5424° (tot die elliptika)
Oppervlak-temp.
   Ewenaar
   85°N[3]
mingem.maks
100 K220 K390 K
70 K130 K230 K
Skynmagnitude -2,5 tot -12,9
-12,74 (gemiddelde volmaan)[2]
Hoekgrootte 29,3 tot 34,1 boogminute[2]

Die Maan is die enigste natuurlike satelliet van die Aarde. Sy deursnee is ’n kwart van die Aarde s’n (vergelykbaar met die deursnee van Australië)[4] en dit is dus die grootste natuurlike satelliet in die Sonnestelsel in vergelyking met die grootte van sy planeet. Die Maan is die vyfde grootste natuurlike satelliet in die Sonnestelsel, ná Ganumedes, Kallisto en Io (Jupiter) en Titaan (Saturnus). Dit het geen ander amptelike naam as "die Maan" nie, alhoewel dit soms Luna (Latyn vir "maan") genoem word om dit te onderskei van die algemene term "maan". Luna (soms ook Diana) is die Romeinse godin van die maan, diere en jag. Haar tradisionele simbool is die groeiende of halfmaan.

’n Vergelyking van die Maan en die Aarde se grootte.

Die Maan het nie ’n beduidende atmosfeer, hidrosfeer of magneetveld nie en die swaartekrag op sy oppervlak is omtrent ’n sesde van dié op Aarde (0,1654 g). Die gebrek aan ’n atmosfeer verseker ook dat die Maan se oppervlak in sy oorspronklike toestand bewaar bly. Waterys is in die permanente skadu's van kraters naby die suidpool aanwesig.[5]

Die Maan se gemiddelde afstand van die Aarde af is 384 400 km, wat sowat 30 keer die Aarde se deursnee is. Die verste afstand wat dit bereik, is sowat 407 000 km en een van die kortste afstande – soos bereik in 2005 en 2007 – is 357 290 km. Die kortste afstand wat ooit gemeet is, is 356 000 km.

Weens die kleiner afstand lyk die skyf van die volmaan net so groot soos dié van die groter, maar verder geleë Son (sy afstand van die Aarde is 150 miljoen km). Hierdie toevallige ooreenkoms het tot die gesamentlike verering van die Maan en Son in baie kulture gelei; dit beteken egter ook dat die Maan vir ’n aardse waarnemer die sonskyf tydens ’n algehele sonsverduistering heeltemal kan bedek.

Die Maan se wentelbaan om die Aarde het ’n sideriese tydperk van 27,3 dae en ’n sinodiese tydperk van 29,5 dae. Die Aarde en Maan is deur hulle wedersydse swaartekrag in ’n sinchroniese rotasie; dit beteken die Maan se rotasie om sy eie as duur net so lank as die sinodiese tydperk en daarom is net die een kant van die Maan altyd na die Aarde gedraai. Tog is 59% van die totale oppervlak van die Maan van die Aarde af sigbaar vanweë wisselings in perspektief (sy librasie).[6]

Aangesien die Aarde se massa sowat 81 keer so groot as dié van die Maan is, lê die twee liggame se massamiddelpunt sowat 1 700 km onder die Aarde se oppervlak. Die swaartekraginvloed van die Maan veroorsaak die Aarde se getye en beïnvloed die lengte van ’n dag op Aarde.

Die kant van die Maan wat na die Aarde gedraai is, word gekenmerk deur donker vulkaniese marias (seë), wat die ruimtes vul tussen die helder antieke hooglande en prominente impakkraters. Die Maan se oppervlak weerkaats redelik min lig; omtrent dieselfde as uitgetrapte teer. Omdat dit direkte sonlig weerkaats, kontrasteer dit egter teen die relatief donker naglug en het dit ’n groot skynbare grootte wanneer dit van die Aarde af gesien word. Dit is dus die helderste voorwerp in die lug naas die Son.

Die eerste mensgemaakte voorwerp wat die Maan bereik het, was die Sowjetunie se onbemande Loena 2 in 1959; dit is gevolg deur die eerste suksesvolle sagte landing deur Loena 9 in 1966. Die eerste suksesvolle bemande ruimtetuig wat op die Maan geland het, was die VSA se Apollo 11; in die Apollo-program het ses bemande landings tussen 1969 en 1972 plaasgevind. Dié en ander, onbemande tuie het maanrotse na die Aarde teruggebring wat in besonderhede bestudeer is om ’n begrip te ontwikkel van die Maan se oorsprong, interne struktuur en daaropvolgende geskiedenis; die algemeens aanvaarde hipotese is dat die Maan sowat 4,51 miljard jaar gelede, kort ná die Aarde, gevorm het uit die puin van ’n reusebotsing tussen ons planeet en ’n hipotetiese voorwerp omtrent so groot soos Mars met die naam Theia.

  1. 1,0 1,1 1,2 1,3 1,4 1,5 Wieczorek, M. (2006). "The constitution and structure of the lunar interior". Reviews in Mineralogy and Geochemistry. 60 (1): 221–364. doi:10.2138/rmg.2006.60.3.
  2. 2,0 2,1 2,2 2,3 2,4 Williams, Dr. David R. (2 Februarie 2006). "Moon Fact Sheet" (in Engels). NASA (National Space Science Data Center). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 21 Mei 2020. Besoek op 31 Desember 2008.
  3. A.R. Vasavada, D.A. Paige, and S.E. Wood (1999). "Near-Surface Temperatures on Mercury and the Moon and the Stability of Polar Ice Deposits". Icarus. 141 (2): 179. Bibcode:1999Icar..141..179V. doi:10.1006/icar.1999.6175.{{cite journal}}: AS1-onderhoud: meer as een naam (link)
  4. Jonti Horner (18 Julie 2019). "How big is the Moon?". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 7 November 2020. Besoek op 15 November 2020.
  5. "NASA: 'lots of water' on the moon" (html) (in Engels). Geargiveer vanaf die oorspronklike op 6 Augustus 2011. Besoek op 24 Maart 2010.
  6. Stern, David (30 Maart 2014). "Libration of the Moon". Nasa. Geargiveer vanaf die oorspronklike op 22 Mei 2020. Besoek op 11 Februarie 2020.