Maanfase

Suidelike Halfrond.
Noordelike Halfrond.
’n Animasie van die Maan soos dit deur sy fases beweeg, soos in 2007 gesien. Die oënskynlike skommeling van die Maan is bekend as librasie. Die oënskynlike verandering in grootte is vanweë die eksentrisiteit van die Maan se wentelbaan.

Maanfase of maangestalte verwys na die vorm van die verligte deel van die Maan soos van die Aarde af gesien. Die maanfases verander terwyl die Maan om die Aarde wentel na gelang van die veranderende posisie van die Maan en Son in verhouding tot die Aarde.

Die Maan het ’n sinchroniese rotasie vanweë die Aarde se swaartekrag, en daarom is net die een kant van die Maan altyd van die Aarde af sigbaar. Hoe groot die deel is wat verlig word, hang af van die posisie van die Maan in sy wentelbaan. Dit kan wissel tussen 100% (volmaan) en 0% (donkermaan). Die donker-liggrens is die grens tussen die verligte deel en die donker deel.

Elk van die "tussenfases" (sien onder) is rofweg sewe dae (~7,4 dae), maar dit wissel effens vanweë die elliptiese wentelbaan van die Maan. Buiten sommige kraters naby die Maan se pole, soos Shoemaker, kry alle dele van die Maan sowat 14,77 dae sonskyn, gevolg deur 14,77 dae donkerte.