Mesolitikum

’n Rekonstruksie van ’n "tydelike" Mesolitiese huis in Ierland. Water was ’n goeie bron van kos.

Die Mesolitikum (van die Griekse μέσος mesos, "middel", en λίθος lithos, "klip"), of Middel-Steentydperk, was die tydperk uit die voorgeskiedenis tussen die Paleolitikum (Ou Steentydperk) en Neolitikum (Nuwe Steentydperk). Die term Epipaleolitikum word dikwels gebruik, veral vir buite Noord-Europa en vir die ooreenstemmende tydperk in die Levant en Kaukasus.

Die Mesolitikum beslaan verskillende tye in verskillende dele van Eurasië. Dit verwys na die laaste tydperk van jagter-versamelaars in Europa en Wes-Asië, tussen die einde van die Laaste Glasiale Maksimum en die Neolitiese Omwenteling. In Europa het dit van omstreeks 15000 tot 5000 v.C. geduur, en in Suidwes-Asië (die Nabye Ooste) rofweg van omstreeks 20000 tot 8000 v.C. Die term word minder dikwels vir gebiede verder oos gebruik, en glad nie vir wêrelddele buite Eurasië en Noord-Afrika nie.

Die soort kultuur wat met die Mesolitikum verbind word, wissel van streek tot streek, maar dit word verbind met ’n afname in die jag in groepe van groot diere ten gunste van ’n jagter-versamelaarslewe in ’n breër sin, asook die ontwikkeling van meer gesofistikeerde en gewoonlik kleiner klipwerktuie en -wapens as die swaar ekwivalente van die Paleolitikum. Na gelang van die streek, kan voorbeelde van erdeware en tekstiele gevind word op terreine wat tot die Mesolitikum behoort, maar gewoonlik word aanduidings van landbou beskou as ’n oorgang na die Neolitikum.

Die meer permanente nedersettings was geneig om nader aan die see of binnelandse water te wees, want dit was ’n groot bron van kos. Mesolitiese gemeenskappe word nie as baie kompleks beskou nie. Begrafnisse was eenvoudig; in teenstelling daarmee was groot grafheuwels ’n teken van die Neolitikum.