Oester

Oester
Bokant van 'n oester
Wetenskaplike klassifikasie
Koninkryk:
Filum:
Klas:
Familie:
Ostreidae
Genera

Verskeie.

Stille Oseaan-oesters, oopgemaak

'n Oester is 'n eetbare weekdier van die familie Ostreidae. Die een skulp is hol en die ander plat. Oesters is gesogte eetgoed wêreldwyd. Daar kom twee spesies aan die Suid-Afrikaanse kus voor: Die Natalse rotsoester (Saccostrea cucullata) en die Kaapse oester (Striostrea margaritacea). Die oester wat egter gebruik word vir kweekdoeleindes in Suid-Afrika is die Stille Oseaanspesie: (Crassostrea gigas). Oesters is op groot skaal gekweek by Knysna maar omrede die meer besoedel geraak het, is die aktiwiteit verminder. Oesters word nou gekweek in Saldanhabaai, Port Elizabeth en Alexanderbaai.

Oesters word geskep wanneer sperm die eiers bevrug en klein larwes gevorm word. Die larwes dryf vir twee weke op die water rond alvorens hulle na die bodem daal. Die larwes het ogies wat hulle verloor sodra hulle 'n plek gevind het waar hulle wil leef. Gedurende dié tyd groei die larwe 'n tydelike voet terwyl dit na 'n geskikte plek soek om homself aan te heg.

Sodra die larwe gevestig is begin dit om kalsiumkarbonaat en proteïene af te skei wat die harde dop vorm. Oesters is waterfiltreerders. Hulle filtreer tussen vyf en ses liter water per dag en vreet die drywende eensellige filoplankton wat in die water voorkom. Tydens die proses word die water skoongemaak. In Suid-Afrika word oesters nie werklik gekweek in die sin dat eiers bevrug word nie. Klein oesters word ingevoer, die meeste vanaf Chili en somtyds ook van Engeland en Amerika.

Nou word die klein oestertjies in kaste gepak en in die see gedompel. Elke twee maande word die kaste uitgehaal, die oesters word skoongemaak en gesorteer volgens grootte. Ook word alle mossels, eendmossels en seeluise wat op die kaste groei, verwyder. Die oesters neem 10 tot 12 maande om ten volle te ontwikkel en die proses word beȉnvloed deur temperatuur. Wanneer oesters geëet word is hulle nog lewendig.