Selkern

Diagramatiese voorstelling van die menslike selkern
1. Kernomhulsel.
1.a. Buitemembraan.
1.b. Binnemembraan.
2. Nukleolus.
3. Nukleoplasma.
4. Kromatien.
4.a. Heterokromatien.
4.b. Eukromatien.
5. Ribosome.
6. Nukluêre porie.
Struktuur van ’n tipiese neuron
Selkern

Die meeste selle het 'n selkern in die een of ander stadium van hul ontwikkeling. Die selkern is meestal 'n ronde of ovaalvormige liggaam wat omtrent een tiende van die sel se totale volume uitmaak. Dit word omring deur 'n dubbele kernmembraan waarvan die buitenste plek-plek met die endoplasmiese retikulum verbind is. Op sommige plekke in die kernmembraan kan daar uiters klein porieë voorkom. Die vloeibare inhoud van die kern staan bekend as nukleoplasma (kernplasma). Twee soorte strukture is van besondere belang in die kernplasma, naamlik die nukleolus (kernliggaam) en die chromosome.

Voordat die sel begin verdeel, lyk die chromosome soos 'n netwerk van fyn drade, die chromatiennetwerk. Die chromosome is verreweg die belangrikste dele van die kern, omdat hulle die draers if van die erflikheidseienskappe wat van geslag tot geslag oorgedra moet word. Wanneer die sel besig is om te verdeel, kom die chromosome voor as aparte drade. Die presiese getal chromosome in die selkern van elke lewende organisme is van allergrootste belang. Elke soort plant of dier se selkerne dra 'n presiese hoeveelheid chromosome. So byvoorbeeld is daar by die mens 46 chromosome in die kern van elke liggaamsel (maar elke gameet bevat slegs helfte van die getal chromosome wat in elke liggaamsel voorkom). 'n Chromosoom bestaan uit proteïene en 'n nukleïensuur, naamlik DNS. Die kleinste eenheid genetiese materiaal op 'n chromosoom wat 'n genetiese boodskap kan oordra, word 'n geen genoem. 'n Chromosoom kan beskou word as 'n lineêre versameling van gene – elke geen is 'n spesifieke chromosoomdeel.

Die kernliggaam is 'n ovaalvormige struktuur waarvan daar een of meer in die kern aanwesig kan wees. Dit bestaan hoofsaaklik uit nukleïensure.