Toendra

Die toendrastreke.
Toendraplantegroei in die somer in Alaska.
Toendravlakte met mere in Noord-Siberië by die Russiese stad Doedinka.

’n Toendra is ’n gebied sonder bome aan die rand van die poolgebied. Dit is een van die 14 WWF-biome. Daar groei veral gras, mos en dwergstruike.

Die woord toendra kom uit Kildin Sami, ’n taal wat op die skiereiland Kola gepraat word. Dit is die genitief van toendar, "boomlose steppe".

Die algemene klimaat op ’n toendra is ongunstig vir die groei van hoë plante. Die bodem is gedurende minstens ses maande van die jaar gevries of met sneeu bedek. Die groeiseisoen is baie kort en die gemiddelde temperatuur van die warmste maand is onder 10 °C.

In die somer ontdooi slegs die boonste laag van die bodem. Hoewel min reën voorkom, is die bodem van ’n toendra meestal moerasagtig omdat die water nie kan wegsink nie weens die bevrore onderlaag en omdat daar min verdamping is. Op baie plekke word dan ook veen aangetref. Tipies van ’n toendra is ook die poligoonbodem, waarin stene as gevolg van die werking van die ryp in veelhoeke gerangskik is.

Toendras kom onder andere in Rusland, Ysland, Kanada en Alaska voor. In die suide word dit deur die taiga begrens. Ook op Suid-Afrikaanse grondgebied, op die Prins Eduard-eilande, kom toendra voor. Dit behoort tot die ekostreek van die Indiese Oseaan se Antarktiese eilande.

Egte toendra is kenmerkend vir die noordelike poolstreke. Die temperatuur styg nie meer as 50 tot 120 dae per jaar bo vriespunt nie en dan ook net tot 5 °C. Boomgroei is gevolglik nie moontlik nie en die toendraplantegroei bestaan uit oorwegend mosse, korsmosse, lae kruidagtige plante en dwergstruike. Dergelike plantegroei is 'n aanpassing by die koue en word ook in hooggebergtes, bo die boomgrens, aangetref; daarom word die streek dikwels die Alpynse toendra genoem.

Daar bestaan egter belangrike verskille tussen die twee habitatte. In die noordelike toendra is die grond die hele jaar bevrore (ysgrond). Gedurende die somer ontdooi net ’n dun bolaag van 'n paar sentimeter. Die smeltwater uit hierdie laag kan nie in die bevrore ondergrond wegsak nie, sodat uitgestrekte moerasse in die somer in die laerliggende dele van die toendra ontstaan.

Die bodem self is baie ongelyk vanweë die herhaaldelike bevriesing en ontdooiing van die bolaag. Bowendien skuif die swak bolaag in die somer maklik weg van die harde ondergrond (bodemvloeiing), waardeur groot ongelykhede ontstaan. Ander belangrike verskille met die boomlose gebiede in die berge is die geringe reënval, die langer dag (in die somer gaan die son in die poolgebied byna nie onder nie) en die gelykmatiger temperature. In die hooggebergtes is die reënval hoër, sodat die plante met 'n dik laag sneeu bedek is.

Dit beskerm die plante wel teen die koue, maar dit duur in die lente lank voordat al die sneeu gesmelt het en die plante kan uitgroei. Omdat dag en nag mekaar in die hooggebergtes normaal afwissel, is die temperatuursverskille daar baie groter as in die toendra. Dit is vandag duidelik dat die ooreenkoms tussen die plantegroei van die hooggebergte en dié van die toendra nie so groot is as wat daar ’n lang tyd gemeen is nie.