Wetenskaplike klassifikasie

Wetenskaplike klassifikasie:
Arr d.png
Domein
Arr d.png
Koninkryk
Arr d.png
Filum of Divisie
Arr d.png
Klas
Arr d.png
Orde
Arr d.png
Familie
Arr d.png
Genus (geslag)
Arr d.png
Spesie (soort)

Wetenskaplike klassifikasie of Taksonomie is 'n hulpmiddel wat in die biologie gebruik word om organismes te klassifiseer. 'n Verskeidenheid eienskappe, soos anatomiese, morfologiese, embriologiese en genetiese eienskappe, gedrag, ensovoorts kan gebruik word om die organismes in kategorieë in te deel.

Bioloë erken 7 basiese en onontbeerlike kategorieë, naamlik die ryk, phylum, klas, orde, familie, genus en spesie. 'n Verdere onderskeid kan tussen die kategorieë gemaak word deur hulle in super-, sub- of infra-eenhede in te deel. Dit is belangrik dat die groot verskeidenheid lewende organismes in groepe ingedeel word wat hulle onderlinge verwantskap toon en wat die groepe wat bymekaarhoort, bymekaargroepeer.

Die Griekse wysgeer Aristoteles het 'n stelsel ontwikkel wat 2 000 jaar lank in gebruik was. Carolus Linnaeus het in die 18e eeu 'n stelsel ontwikkel waarvan die basiese beginsels vandag nog gebruik word. Die doel van klassifikasie is om organismes so in te deel dat die evolusionêre en funksionele verwantskappe van die groepe duidelik blyk. Die indelingsproses berus op internasionaal aanvaarde standaarde en reëls, wat vereis dat organismes na 'n deeglike studie van die eienskappe of in 'n reeds bestaande groep of in 'n nuwe groep ingedeel word.

Die eienskappe wat gebruik word, kan baie uiteenlopend wees, soos anatomies, morfologies, embriologies, geneties (chromosoomgetalle) of biochemies (aminosuurvolgordes, ensovoorts). Die eienskappe van die organismes word met ander verwante organismes vergelyk en dan word dit in die betrokke groep geplaas. Bioloë gebruik 7 basiese groepe vir die indeling van organismes.

Alle lewende organismes word deur die meeste bioloë in 5 ryke ingedeel: die diere behoort tot die ryk Animalia, plante tot die ryk Plantae, eensellige plante en diere tot die ryk Protista, swamme en gisse tot die ryk Fungi en die bakterieë en ander prokariote tot die ryk Monera. Die indeling is egter voortdurend onderhewig aan veranderings. Daarna word 'n ryk gewoonlik in phyla (in die geval van diere) of afdelings (in die geval van plante) ingedeel.

'n Voorbeeld van so ʼn indeling is die geleedpotiges (phylum Arthropoda) of die weekdiere (phylum Mollusca). 'n Phylum kan verder onderverdeel word in subphyla, byvoorbeeld die Chordata, wat in onder meer die subphyla Cephalachordata en Vertebrata ingedeel word. Die daaropvolgende indeling is die klas. Die werweldiere, byvoorbeeld, word in 'n aantal klasse ingedeel, soos die beenvisse (klas Osteichthyes), kraakbeenvisse (klas Chondrichthyes), amfibieë (klas Amphibia), reptiele (klas Reptilia), voëls (klas Aves) en soogdiere (klas Mammalia).

Klasse word nou onderverdeel in ordes, byvoorbeeld die soogdiere, wat ingedeel word in die roofdiere of vleiseters (orde Carnivora), die knaagdiere (orde Rodentia), ensovoorts. Die ordes word in families ingedeel, soos die Carnivora, wat onder meer die volgende families, bevat: familie Mustelidae (die otters, muishonde, ensovoorts), die Viveridae (sivette, muskeljaatkatte) en die Felidae (leeus, luiperds, tiere, katte, ensovoorts).

Elkeen van die taxa kan verder gekwalifiseer word deur byvoorbeeld 'n superklas te skep, soos die superklas Pisces, wat al die visse, lewend en uitgestorwe, akkommodeer. Die taxa kan ook tot 'n subeenheid, byvoorbeeld 'n subklas, en ʼn taksonomiese eenheid daaronder, die infraklas, ingedeel word. Die voorvoegsels super-, infra- en sub is op al bogenoemde taxa van toepassing. 'n Aantal ander eenhede soos kohorte of tribus kan ook gebruik word, maar dit is nie baie algemeen nie.

Individuele groepe organismes word gewoonlik aan die hand van hul genus en spesiename aangedui en die metode word die binominale stelsel genoem. 'n Genus is 'n versameling van 'n aantal baie nouverwante soorte of spesies. Spesies kan op verskillende maniere gedefinieer word en die spesiedefinisies van plante en diere verskil. 'n Dierspesie kan gedefinieer word as ʼn groep diere waarvan die lede kan paar en nasate produseer wat kan voortplant. 'n Alternatiewe metode is om spesies te beskou as diere wat 'n gemeenskaplike, spesifieke maatuitkenningstelsel deel, wat beteken dat 'n mannetjie in natuurlike omstandighede net met 'n wyfie van sy eie spesie paar.

Die onderstaande lys wys hoe lewende dinge geklassifiseer word:

'n Organisme se wetenskaplike naam is 'n kombinasie van sy genus en spesie. 'n Hond se wetenskaplike naam is byvoorbeeld Canis familiaris en 'n perd is Equus caballus. Die wetenskaplike naam word gewoonlik kursief (skuinsgedruk) geskryf. Die genus word met 'n hoofletter geskryf en die spesie met 'n kleinletter.

Die volgende tabel is 'n lys van die verskillende koninkryke met ooreenstemmende filums/afdelings (die wetenskaplike naam is soms tussen hakies):

Koninkryk Filum (diere) / afdeling (plante)(1) Voorbeelde
Diere Gewerweldes (Vertebrata) / rugstringdiere (Chordata) Vierpotiges (Tetrapoda) Soogdiere, voëls, reptiele, amfibieë
Visse met kake Tuna, haaie, pylsterte
Kaaklose visse (Agnatha) Slymprik, lamprei
Ongewerweldes (Invertebrata) Wurms, slakke.
Ongewerweldes – geleedpotiges (Arthropoda) Spinnekoppe, skerpioene, duisendpote, krappe, insekte
Stekelhuidiges (Echinodermata) Seelelies, seesterre
Protosoë (Protozoa]) Amoebozoa Amoeba
Plante Blomplante (Angiospermae)
Varingplante (Pteridophyta) Varings
Denne (Pinophyta) Dennebome
Bakterieë
Skimmels/swamme (Fungi) Paddastoele
Protiste (Protista)
Eensellige mikro-organismes (Archaea)

Nota:
Sien Filum vir 'n redelik volledige lys van verskillende filums/afdelings.

Die volgende tabelle van die verskillende filums bou voort op die boonste tabel: