Duitsland

Bondsrepubliek Duitsland
Bundesrepublik Deutschland (Duits)
Vlag van Duitsland Wapen van Duitsland
Vlag Wapen
Nasionale leuse: Einigkeit und Recht und Freiheit
(Duits vir: "Eenheid én geregtigheid én vryheid")
Volkslied: Die derde strofe van die Deutschlandlied
Ligging van Duitsland
Hoofstad Berlyn

52°31′N 13°23′O / 52.517°N 13.383°O / 52.517; 13.383

Grootste stad Berlyn
Amptelike tale Duits1
Regering

President
Kanselier
• President van die Bundestag
• President van die Bundesrat
Federale parlementêre
grondwetlike republiek

Frank-Walter Steinmeier
Olaf Scholz
Bärbel Bas[1]
Peter Tschentscher[2]
Onafhanklikheid

2 Februarie 962
8 Junie 1815
18 Januarie 1871
9 November 1918
30 Januarie 1933
23 Mei 1949
7 Oktober 1949
3 Oktober 1990
Oppervlakte
 - Totaal
 
 - Water (%)
 
357 600[3] km2  (63ste)
138 100 myl2
1,27 (2015)[4]
Bevolking
 - 2023-skatting
 - 2011-sensus
 - Digtheid
 
84 607 016[5] (19de)
80 219 695[6]
236 / km2 (58ste)
611,2 / myl2
BBP (KKP)
 - Totaal
 - Per capita
2024-skatting

$5 715 miljard[7] (5de)
$68 129[7] (18de)

BBP (nominaal)
 - Totaal
 - Per capita
2024-skatting

$4 701 miljard[7] (3de)
$56 037[7] (19de)

MOI (2021) 0,942[8] (9de)  –  baie hoog
Gini (2022) 29,0[9] –  laag
Geldeenheid Euro (EUR) ()
Tydsone
 - Somertyd
MET (UTC+1)
MEST (UTC+2)
Internet-TLD .de www.deutschland.de
Skakelkode +49
1. Deens, Nederduits, Sorbies, Roma en Fries word amptelik erken en as minderheidstale beskerm deur die ECRML.[10]
Portaal Europa

Duitsland (Duits: Deutschland, [ˈdɔʏtʃlant], ), amptelik die Bondsrepubliek Duitsland (in Afrikaans dikwels ook Federale Republiek Duitsland genoem; Duits: Bundesrepublik Deutschland, [ˈbundəsʁepuˌbliːk ˈdɔjtʃlant], ), is in die sentrum van Europa geleë en vervul in baie opsigte 'n brugfunksie tussen Wes-Europa en die lande van Sentraal- en Oos-Europa.

Die Brandenburgse Poort in die hoofstad Berlyn, simbool van die herenigde Duitsland

Die land word in die noorde begrens deur die Noordsee, Denemarke en die Oossee, in die ooste deur Pole en Tsjeggië, in die suide deur Oostenryk en Switserland, en in die weste deur Frankryk, Luxemburg, België en Nederland. Geen ander land in die Europese Unie het meer buurlande as Duitsland nie.[11]

As 'n geografies uiteenlopende land het Duitsland 'n groot verskeidenheid landskappe wat van die kusgebiede langs die Noord- en Oossee en die uitgestrekte vlaktes van Noord-Duitsland oor die berglandskappe van Sentraal- en Suid-Duitsland tot die Alpe in die uiterste suide strek. Vyf groot rivierstelsels – dié van Ryn, Donau, Elbe, Main en Weser – kom in die land voor en word deur kanale met mekaar en die Europese netwerk van waterweë verbind.

Die Duitse Keiserryk is as 'n nasiestaat verenig tydens die Frans-Duitse Oorlog in 1871. Die huidige Duitsland is 'n demokratiese, parlementêre en federale republiek wat uit 16 deelstate bestaan. Die deelstate kan in sekere sfere, soos onderwys, onafhanklik van die federasie optree. Duitsland is, net soos baie ander Europese lande, 'n sosiale welvaartstaat, wat in sy binnelandse ekonomiese beleid die beginsels van 'n sosiale markekonomie toepas, en ook een van die liberaalste lande ter wêreld waar groot waarde aan omgewingsbewaring en die bestryding van xenofobie geheg word.

Nogtans weeg behoudende waardes steeds swaar in Duitsland wat vanweë sy ryk kulturele, filosofiese en literêre erfenis ook as die "land van digters en denkers" bekendstaan. Ou tradisies word met trots bewaar en gewaardeer, net soos harde werk, juistheid en fiskale verantwoordelikheid.[12]

Die Bondsrepubliek Duitsland is 'n lid van die Verenigde Nasies, NAVO, die G8- en die G4-nasies, asook 'n stigterslid van die Europese Unie. Duitsland, wat sedert die 1990's meer as drie miljoen immigrante uit Oos-Europa ontvang het, het tans die grootste bevolking van enige EU-lidstaat. As een van die wêreld se voorste nywerheidslande, wat hom op meganiese ingenieurswese en masjienbou, voertuie, chemiese produkte en huishoudelike goedere toespits, is Duitsland die grootste ekonomie in Europa en die vierde grootste ter wêreld. Sy ekonomiese en politieke gewig stel die land in staat om sy beleid van fiskale soberheid ook op Europese vlak toe te pas.

  1. (de) bundestag.de
  2. (de) bundesrat.de
  3. (de) "Flächennutzung". Statistische Ämter des Bundes und der Länder. 31 Desember 2020. Besoek op 7 Maart 2024.
  4. (en) "Surface water and surface water change". OESO. Besoek op 7 Maart 2024.
  5. (de) "Bevölkerung nach Nationalität und Geschlecht 2023". Statistische Ämter des Bundes und der Länder. 30 September 2023. Besoek op 7 Maart 2024.
  6. (de) "Zensus 2011: Bevölkerung am 9. Mai 2011" (PDF). Geargiveer (PDF) vanaf die oorspronklike op 23 November 2017. Besoek op 13 Mei 2018.
  7. 7,0 7,1 7,2 7,3 (en) "Germany". Internasionale Monetêre Fonds. Oktober 2023. Besoek op 7 Maart 2024.
  8. (en) "Human Development Report 2021/2022" (PDF). United Nations Development Programme. 2021. Besoek op 7 Maart 2024.
  9. (en) "Gini coefficient of equivalised disposable income – EU-SILC survey". Eurostat. Besoek op 7 Maart 2024.
  10. (en) Jenny Gesley (26 September 2018). "The Protection of Minority and Regional Languages in Germany". Library of Congress. Besoek op 7 Maart 2024.
  11. (de) Tatsachen über Deutschland: Geografie & Klima. Besoek op 29 Mei 2017[dooie skakel]
  12. (en) Fodor's Germany. Kindle-eBoek-uitgawe. New York: Fodor's Travel Publications 2014, pos. 109