Distillasie

Skets wat distillasie in 'n laboratorium uitbeeld: 1: 'n Verhittingstoestel 2: Ketel 3: Ketelkop 4: Termometer/Kookpunt temperatuur 5: Kondensator6: Verkoelingswater toevoer 7: Verkoelingswater uitlaat 8: Distillasie/opvangsfles 9: Vakuum/gasinlaat 10: Ontvanger 11: Hittebeheer 12: Roerder spoedbeheer 13: Roerder/verhittingsplaat 14: Warmbad (Olie/sand) 15: Roermeganisme 16: Verkoelingsbad.

Distillasie is 'n metode vir die skei van mengsels gebaseer op die verskille in hul vlugtigheid in 'n kokende vloeistofmengsel. Distillasie is 'n eenheidswerking of fisiese skeidingsproses en nie 'n chemiese reaksie nie.

Kommersieël het distillasie 'n verskeidenheid gebruike. Dit word gebruik om ru-olie in verskeie brandstoffraksies te skei. Water word gedistilleer om onsuiwerhede soos sout in seewater te verwyder. Lug word gedistilleer om die komponente daarvan te skei vir nywerheidsgebruike, veral noemenswaardig is suurstof, stikstof en argon. Distillasie van gefermenteerde oplossings word al sedert antieke tye gebruik om drank met 'n hoër alkoholinhoud voor te berei (Wyn word byvoorbeeld gedistilleer om brandewyn te verkry).