Ekonomie

Kopers bie vir goeie pryse, terwyl verkopers hulle beste voet voorsit in 'n mark in Chichicastenango, Guatemala.

Ekonomie is die sosiale wetenskap wat die produksie en verbruik van meetbare middele bestudeer. Dit behels die analise van die produksie, verspreiding en verbruik van goedere en dienste. Volkshuishouding is 'n verouderde term vir ekonomie.

Ekonomie word "positief" genoem wanneer dit poog om die gevolge van verskillende keuses aan die hand van 'n stel aannames te verduidelik en "normatief" wanneer dit 'n sekere aksie voorskryf.

Die onderwerp word breedweg verdeel in twee hoof vertakkings: mikro-ekonomie, wat gemoeid is met indiwiduele instansies, soos huishoudings en ondernemings, en makro-ekonomie, wat die ekonomie as 'n geheel beskou (insluitende inflasie, werkloosheid, industriële produksie en die rol van die regering). Aangeleenthede wat spesifiek aandag in ekonomie geniet is hulpbrontoedeling, produksie, verspreiding, handel en mededinging. Ekonomie kan in beginsel (en word toenemend) aangewend word om probleme wat keuses onder toestande van skaarsheid behels, of met die bepaling van waarde.