Gotiese argitektuur

Early English-styl: die wesfasade van die Katedraal van Wells in Somerset, Engeland (omstreeks 1260)
Kerkvensters met pragtige glasskilderye in die basiliek van Saint-Denis, noord van Parys. Lig het 'n belangrike sentrale waarde in Gotiese argitektuur wat uit die dualisme van lig en donkerheid of goed en kwaad voortspruit. God word vereenselwig met lig wat die duisterheid deurbreek, met lig as sy eerste skepping in 'n andersins donker heelal. Dit is juis die besonderse 12de eeuse ligestetiek en ligmetafisiek wat Gotiese boumeesters geïnspireer het tot reusagtige glasfasades wat God se teenwoordigheid versinnebeeld[1]

Die Gotiek is 'n styltydperk van die Middeleeuse Europese kuns, wat omtrent 1140 in die Île-de-France (omgewing van Parys) ontstaan het en noord van die Alpe tot omtrent die begin van die 16de eeu oorheers het. Dit het die Romaanse styl in die argitektuur en kuns opgevolg. Die Gotiese styl kan slegs ten opsigte van die argitektuur presies afgebaken word, terwyl die beeldhoukuns en skildery van dié tydperk nie onmiddellik deur suiwer Gotiese elemente gedomineer is nie en eers geleidelik ontwikkel het.

Gotiese argitektuur - soms ook Spitsboogstyl genoem - word verdeel in die Vroeg-, Hoog- en Laat-Gotiese styltydperke, waarby die besondere stylelemente in die Europese gebiede op verskillende tye oorgeneem is.

Vroeg-Gotiese Styl Hoog-Gotiese Styl Laat-Gotiese Styl
Frankryk 1140–1200 1200–1350 1350–1520
Italië vanaf 1200
Engeland 1170–1250
Early English
 
1250–1350
Decorated
 
1350–omstreeks 1550
Perpendicular,
Flamboyant
Heilige Romeinse Ryk 1220–1250 1250–1350 1350–omstreeks 1520/30

Die Gotiese kuns het die Christelike ideëwêreld begin versinnebeeld en vir hierdie doeleinde gebruik gemaak van simboliek en allegorie. Die uitnemendste Gotiese kunswerk, waarin argitektuur, beeldhoukuns en (glas-)skildery verenig is, is die Gotiese katedraal. Die Gotiese styl is egter ook toegepas op wêreldlike geboue en die woonhuise van welgestelde burgers.

Die term "Gotiek" (afgelei van Italiaans gotico "vreemd, barbaars") was oorspronklik 'n skeldwoord en is afgelei van die Germaanse volk van die Gote. Dit is vir die eerste keer in die Renaissance-tydperk deur die Italiaanse kunskenner Giorgio Vasari gebruik, wat hierdeur uitdrukking gegee het aan sy minagting van die Middeleeuse kuns teenoor die "goue tydperk" van die antieke kuns. Moderne deskundiges stem nie ooreen met Vasari se opvattings nie, maar sy term is nogtans in die kunsgeskiedenis en -teorie oorgeneem.

Die Latynse vakterm, wat in die tydperk van die Gotiek gebruik is, was opus francigenum of "(kuns)werk van Franse oorsprong".

  1. Kultur Niederösterreich - Denkmalpflege in Niederösterreich. Band 53: Licht. St. Pölten 2016, bl. 6