Romaanse kuns

Die Romaanse kuns het teen die middel van die 10de eeu byna gelyktydig op verskillende plekke in Wes-Europa begin ontwikkel. Hoewel die Romaanse kuns hoofsaaklik godsdienstig van aard is, verskil dit heelwat van streek tot streek, wat dit baie moeilik maak om 'n omvattende definisie daarvoor te gee.

Van die algemeenste kenmerke van die Romaanse boukuns is die ronde boog, die ton- of tonnelgewelf en die fronton bokant die ingang, wat met beeldhouwerk versier is en meestal die Laaste Oordeel of Christus op die hemelse troon voorstel. Sulke voorstellings met godsdienstige temas het in die skilderkuns nie net as versieringselement gedien nie, maar ook om ongeletterde gelowiges meer van die Bybel te vertel. Die Romaanse kuns is tussen 1150 en 1250 deur die Gotiek opgevolg.